Die idee vir VARSGEPARS is tydens die COVID-inperking gebore – meer spesifiek oor ’n koppie koffie onder die stoep van die voormalige Rebellie Restaurant in Orania. Ons het besef daar is ’n behoefte aan ’n plek wat vinnig en professioneel drukwerk kan lewer: van T-hemde tot korporatiewe geskenke. Dit was toe dat ons besluit het om ons passie en kreatiwiteit te gebruik om ’n verskil te maak en iets positiefs aan ons gemeenskap terug te gee.
Om die besigheid op die been te bring, het ons nou saam met kundiges in die drukbedryf gewerk, in hoëgehalte toerusting belê en voortdurend ons kennis verbreed. Met verloop van tyd het ons ’n industriële borduurmasjien bygevoeg en internasionale digitaliseringskursusse voltooi – wat ons met onderskeiding geslaag het. Hoëgehalte digitalisering stel ons in staat om unieke, kreatiewe borduurontwerpe te skep wat tegnies en esteties uitstaan.
Omdat tegnologie voortdurend ontwikkel, het ons sedert 2020 reeds drie opgraderings na meer moderne drukkers gedoen om uitstekende gehalte te verseker. Ons was een van die eerste besighede in Suid-Afrika wat oorgeskakel het na DTF-drukwerk — tans die mees gevorderde metode om T-hemde te druk. Dit beteken dat ons kliënte toegang het tot drukwerk van wêreldklasgehalte.
Ons dryfkrag? Kwaliteit en kreatiwiteit.
By VARSGEPARS glo ons in spanwerk, praktiese opleiding en die ontwikkeling van jong talent. Ons skep met trots werksgeleenthede vir Oraniërs en werk elke dag met entoesiasme saam. Uiteindelik gaan dit nie net oor drukwerk nie, maar oor mense, trots en die vreugde om iets vars en mooi te skep.
Ontmoet ons span
Irma Roets: Eienaar
Irma Roets is VARSGEPARS se eienaar – ons baas van die plaas. Sy is hoogs gekwalifiseerd en vaardig in die digitalisering van borduurwerk. Sy het gou besef dat Orania ’n behoefte het aan professionele druk- en borduurwerk. Met haar kundigheid in borduurwerk-digitalisering, fyn oog vir detail en passie vir uitnemendheid sorg sy dat elke ontwerp akkuraat en netjies uitgevoer word. VARSGEPARS staan bekend vir kwaliteit druk- en borduurwerk wat met sorg, presisie en trots gelewer word.
Olga Boshoff: Winkelbestuurder
Olga is VARSGEPARS se winkelbestuurder en ons eie kreatiwiteitskoningin. Kreatiwiteit loop diep in haar are en sy sorg dat daar altyd iets nuut, opwindend en VARS in die winkel te sien is. Haar ontwerpe gee lewe aan kliënte se idees en wys haar kunstige aanslag in elke stuk drukwerk. Sy is ’n kenner van sublimasie op bekers en tumblers en weet presies hoe om DTF-drukwerk van topgehalte te lewer. Met ‘n skroewedraaier en tang in die hand kan sy ook menige dinge in die winkel regmaak!
Eron Schoeman: Winkelassistent & administratiewe beampte
Eron Schoeman is ’n onmisbare deel van die VARSGEPARS-span. Iemand op wie mens altyd kan staatmaak. Haar hande staan vir niks verkeerd nie en sy hou dinge glad en aan die gang – van administrasie tot DTF-drukwerk op hemde en sublimasie op bekers en tumblers.
As ’n rekenaar, borduurmasjien of selfs ’n selfoon begin moeilikheid gee, is Eron gewoonlik die een wat dit vinnig weer aan die gang kry. Sy is ook die kreatiewe brein agter VARSGEPARS se TikTok-video’s, waar sy alledaagse winkeloomblikke omskep in inhoud wat laat glimlag en aandag trek. Sy lewer borduurwerk van hoë gehalte, met digitalisering wat getuig van professionaliteit en presisie. En ja – sy sorg ook dat die koffie vloei, want by VARSGEPARS loop koffie en kreatiwiteit hand-aan-hand.
Lelanie Roets: Bemarker
Lelanie Roets is VARSGEPARS se bemarker en die kreatiewe krag agter ons sosiale media op Facebook en Instagram.
Waar ander net ’n foto sien, sien sy ’n storie. Met haar kreatiewe aanslag en oog vir detail skep sy advertensies wat aandag trek. Sy sorg dat VARSGEPARS se produkte en dienste nie net gesien word nie, maar onthou word.
